Nier

Die nier van 'n vark

Die nier is 'n boonvormige uitskeidingsorgaan wat in soogdiere voorkom. Die nier vorm deel van die urinêre stelsel en filtreer afvalstowwe (veral ureum) vanuit die bloed en skei dit saam met water uit as urine. Die nier sorg ook vir die handhawing van die suur-basis-ewewig in die liggaam deur die vervoer van bikarbonaat en waterstof-ione. Die mediese veld wat niere bestudeer word nefrologie genoem vanuit die Grieks. Die byvoeglike naamwoord "renale" beteken nier-verwant en kom uit die Latyn renes.

In die mens is die niere aan die agterkant (posterior) van die buik geleë, agter die peritoneum (vlies wat die buik uitvoer). Hulle is 10-13 cm lank, 5 cm dik en weeg elk ongeveer 150 gram. Daar is een aan elke kant van die werwelkolom; die regter nier is net onder die lewer geleë (dus effens laer as linker nier) en die linker nier net onder die diafragma en langs die milt. Aan die bo-pool van elke nier is 'n klier genaamd die bynier.

Die niere speel 'n belangrike rol ten opsigte van die behoud van die interne balans van die liggaam deur op 'n selektiewe wyse die afvalprodukte van die liggaam uit te skei, die verlies van sout en water te beheer en die konsentrasie waterstofione in die liggaam konstant te hou.

Die niere is ook verantwoordelik vir die vervaardiging van die hormone eritropoiëtien en renien, wat onderskeidelik 'n invloed op die produksie van die rooi bloedselle en die bloeddruk uitoefen. Die niere van die mens is aan weerskante van die werwelkolom, teen die posterior abdominale wand, geleë. In 'n deursnee van die nier kan met die blote oog die skors (korteks) en die murg (medulla) onderskei word. Die nier is opgebou uit ongeveer een miljoen nefrone. Hierdie mikroskopies klein struktuurtjies kan as die funksionele eenhede van die nier beskou word.

In die glomerulus (die eerste gedeelte van die nefron) word die bloed gefiltreer via 'n spesiale skeidingswand wat water en klein molekules maar nie groter proteïenmolekules nie, deurlaat. Die filtraat beland dan in die nierbuisie; nuttige stowwe soos natrium, glukose en water word uit die filtraat opgeneem. Die absorpsie van veral water is indrukwekkend: hierdeur word die volume van die filtraat aan die einde van die nierbuisie tot 'n honderdste van die oorspronklike volume gereduseer.

Die klein bloedvaatjies waarin die bloed vanaf die glomerulus weggevoer word, volg naastenby dieselfde roete as die van die nierbuisies. Hulle loop vanaf die glomerulus in die korteks van die nierweefsel na die medulla en keer na die glomerulus terug. Op hierdie plek vorm 'n aantal selle van die glomerulus, nierbuisie en toevoerende (afferente) bloedvaatjies gesamentlik 'n struktuur wat by die vorming van hormone betrokke is. Die nierbuisie open uiteindelik in 'n versamelbuisie, wat deur die medulla loop en op sy beurt in die nierbekken uitmond.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search